< < < Back


Dozi

Entrance:

The entrance fee is JUST R5 per person!

 

Date: 29 June 2024

Times:

Information:

Time: 14h00-16h00!

Na tien jaar sonder rondtoer is Dozi,  alombekende Suid-Afrikaanse musiek-ikoon, in volle glorie terug op die planke en onder die ligte – dié keer, groter as óóit!

Vir ‘n dekade lank was Dozi druk doenig in die restaurantwese en met privaat-musiekvertonings by sy bekende kuierplek Back to the Roots. Dié gewilde restaurant naby Hartebeespoortdam, sal egter voortaan ánders aangewend word, aangesien Dozi weer volwaardig, met kop, hart, siel en snare toetree tot die openbare optredes, waarop Afrikaanse musiekliefhebbers al so lank wag!

Met die aanhoor van sy naam en as een van dié mees gesogte musikante wat Suid-Afrika nog opgelewer het, herhaal die ou Dozi-treffers, waarmee Dozi die verhoogplanke tien jaar gelede dún gesing het, hulself onwillekeurig.  Daar is egter niks wat die publiek kan voorberei op Dozi se kragtige terugkeer na die verhoog en helder ligte nie!

Dozi se nuwe enkelsnit, Toe die engel aan die water raak, is sopas vrygestel in ‘n meesterlike duet saam met die sangeres, Nadine. Dit is Afrikaanse sielsmusiek wat kliphard tref en een van dáárdie liedjies wat vanselfsprekend blý resoneer, lank nadat die laaste note weggesterf het.

Die intense vertolking van die eerlike, vars en oorspronklike lirieke van die lied is gelaai met passievolle ontploffings waar musiek en liriek mekaar skitterend en wedersyds komplimenteer.  Die storielyn is eiesoortig, kragtig en uniek - ‘n lewende vertelling van soek en swerf;  liefde en leed; goedheid, Godheid en geluk.

Van ver agter sy blou oë verklap sy mond sy hart: “Ek het nog nooit ophou sing nie – myself net losweg in ‘n kokon toegespin waar ek in vrede kon val en opstaan; wen en verloor en die koring behoorlik van die kaf kon skei...” Hy praat verder, dié keer met die stille krag uit ‘n murgdiep plek: “Mense is geneig om op die punte van hulle tone op die bokant van die siel te dans.  Jy moet sink man!  Sínk tot in die diepkant van jou siel – tot héél onder! Dis uit dááiplek wat ek sing!”

Dozi het verskeie platinum-suksesse gesmaak en sy spore sit diep in Afrikaner-harte, waar hy homself plaaslik en internasionaal onderskei het as ’n krag waarmee rekening gehou moet word.

“Die enigste manier om die massafout van die lewe mettertyd te oorleef, is om te groei... te verdiep... te verander... Ek bevind myself op ‘n vredige plek, waar die applous van die wêreld vir my minder geraak het as die boodskappe wat ek na die mensdom wil bring. Ek is ouer... my gees is ouer... ek het meer om te sê...”, vertel dié geliefde sanger met groot, dog dringende deernis.

 “Musiek is in alle waarskynlikheid die kragtigste vorm waarmee boodskappe van waarheid die wêreld ingestuur word.  Dis meer as net hout en snare. Die múrg moet terúg...”

Toe die engel aan die water raak, is gebore en opgeneem op Dozi se plaas in medewerking met die sanger;  uiters talentvolle musiekvervaardiger en klankingenieur, Byron Kuntz; baskitaarspeler, Michael Phillips en die ink van digteres en liriekskrywer, Francis Grobler.

Musiekliefhebbers kan regskuif vir dié ysbreker, en kom aansit by die feesmaal waarop hulle al ‘n dekade lank wag, met ‘n tien-jaar-oue uit die wynvat!

Maak die sitplekgordels vas! Hier kom ‘n ding!

Nou beskikbaar op alle musiek-platforms!